CENTRAL SPORT

Nuus

Pluimbal Koopgids

Raket

Sonder 'n raket, sou dit nie moontlik wees om pluimbal te speel nie. Dit gaan sonder om te sê dat dit die mees belangrike (en soms duurste) stuk toerusting is wat jy kan koop.

Dit is belangrik om 'n raket te kry wat jou speelstyl en ondervinding pas. Spelers begin gewoonlik met 'n goedkoop raket. Eintlik enigiets wat gebruik kan word om die pluim te slaan. Terwyl daar niks fout is hiermee nie sal meeste spelers nie lank vat voor hulle kyk vir 'n beter raket nie.

Daar is 'n paar belangrike dinge om in ag te neem as jy vir 'n nuwe raket soek.

Onder andere is daar die gewig, grip grootte, balans, buigbaarheid, snaar spanning en raket vorm om te kies van.

Gewig

Raket gewig word in die volgende klasse inverdeel:

2U - 90 gram en op
3U - 85 - 89.9 gram
4U - 80.0 - 84.9 gram
5U - 75 - 79.9 gram
Oefen - swaarder rakette vir versterking van jou gewrig

Li-Ning gebruik die stelsel:
W1 - 78 - 80 gram
W2 - 81 - 84 gram
W3 - 85 - 89 gram

'n Raket met 'n lae gewig kan veral goed wees vir verdedigende spelers wat sagte spel en beheer benodig. Die speler kan vinniger reageer met 'n lae gewig raket.

'n Aggresiewe speler kan baat vind by 'n effe swaarder raket aangesien die momentum en krag wat gegenereer word deur 'n swaai verhoog word.

Balans

Balans verwys na die balans punt - 'n punt op die raket staaf gemeet van die onderkant van die grip af.

Kop swaar - 295 - 305mm
Gebalanseerd - 290 - 300mm
Kop lig - 285 - 295mm

Verdedigende spelers sal waarskynlik 'n kop lig of gebalanseerde raket verkies.

Aggresiewe spelers wat meer krag soek sal eerder 'n kop swaar raket wil probeer.

Grip Grootte

Grip grootte indikasies verskil per verskaffer, maar volg oor die algemeen die volgende gradering:

G2/S2 of Yonex G5 - 3.25 inch
G3/S3 of Yonex G4 - 3.50 inch
G4/S4 of Yonex G3 - 3.75 inch
G5/S5 of Yonex G2 - 4.00 inch

'n Kleiner grip omtrek word gewoonlik verkies aangesien die raket nie te styf vasgehou moet word nie. 'n Persoon met groot hande kan dalk 'n groter grip meer gemaklik vind.

Buigbaarheid

Staaf buigbaarheid varieër van buigbaar na styf en sal volgens jou speelstyl gekies word. Meeste beginner rakette het 'n buigbare  staaf en is goed vir beheer. Stywer stawe word gewoonlik gebruik deur meer ervare spelers en ook aanvallende spelers wat meer krag soek.

Snaar Spanning

Aanbeveelde snaar spanning:

Beginner tot middelvlak spelers -> 18 - 22 lbs.
Gevorderde spelers -> 22 - 28 lbs.

Op die raket se raam is daar snaar spanning aanwysings.

Raket vorm

Daar is basies twee opsies:

Konvensioneel - die raket het 'n ovaal kop met 'n kleiner soet kol.
Isometries - die kop van die raket is meer reghoekig in vorm en het 'n groter soet kol.

Vir beginners is die isometriese vorm gewoonlik beter.

Vir goeie leiding om 'n raket te kies gaan na http://www.badmintonwarehouse.com/articles.asp?id=123

Die mees bekende raket maak is Yonex, maar moenie ander make soos Li-Ning, Kason, Hi-Qua, Wilson, Carlton en Victor ignoreer nie.

Pluime

Die engelse naam is shuttlecocks, maar ons hoef gelukkig nie so daarna te verwys nie.  Daar is twee soorte:

Nylon Pluime

Nylon pluime word ook plastiek pluime genoem.  Hulle is meer duursaam as veerpluime te danke aan die plastiek en kan gewoonlik 'n hele paar wedstryde hou. Die pluime word gewoonlik vir oefening en vir laer liga wedstryde gebruik aangesien dit minder maklik breek. Plastiek pluime verlaat die raket stadiger na 'n hou, maar die spoed val nie soveel na die einde van sy vlug nie.

Nylon pluime kom in drie grade:

Groen - stadige spoed
Blou - medium spoed
Rooi - vinnige spoed

Nylon pluime word deur Yonex en Victor verskaf.

Veer pluime

Veerpluime word gemaak van kurk oordek met dun leer en 'n kieel van vere gemaak met 16 eend of gans vlerk vere. Die beste kwaliteit pluime word gemaak van vere van die linkervlerk van 'n gans (regter en linker vlerk vere word nie gemeng nie). Beter kurk word ook gebruik in beter pluime.

Veerpluime is minder duursaam en breek makliker. Dit is nie ongewoon om 'n paar pluime in 'n spel te breek nie. Die duursaamheid kan verbeter word deur die pluime ongeveer 'n halwe dag voor gebruik te stoom.

Die pluime verlaat die raket teen 'n hoër spoed, maar briek baie meer as plastiek pluime. Dit maak dat die spel vinniger lyk, maar terselfdertyd dat spelers meer tyd het om by die pluim te kom.

Die spoed van die pluime word as volg gelys:
-Japan gebruik 'n 1 - 5 graad
-Metric gewig van 48 - 52 waar 48 gelyk is aan 4.8gram
-Grain wat strek van 75 to 79

1/48/75 - stadig vir hoog bo seevlak
2/49/76 - medium stadig vir warm areas
3/50/77 - medium vir gebruik by see vlak
4/51/78 - medium vinnig vir koue areas
5/52/79 - vinnig vir koue areas en onder see vlak

Grade so laag as 73 en hoog as 81 is ook soms beskikbaar.

Veerpluime word deur  Yonex, Li-Ning, RSL, Victor, Hi-Qua en ook ander make verskaf.

Skoene

Die beweging wat jy op 'n pluimbal baan moet kan doen verskil baie van wanneer jy byvoorbeeld draf of stap.  Dit is belangrik dat die skoen nie sal gly nie en stabiliteit gee wanneer jy oor die baan beweeg.

Twee vereistes vir pluimbal skoene:

- Die skoene moet nie merke op die baan maak nie.
- Dit moet goeie ondersteuning en stabiliteit gee om die enkels te beskerm.

Goeie skoene sluit in Yonex, Asics and Adidas.

Ander

Klere behoort lig te wees en lugvloei te vergemaklik wanneer jy beweeg. 'n Kortbroek wat nie beweging strem nie is goed (tensy dit baie koud is).

 

'n Raket sak, energie eetgoed en 'n handdoek is goeie goed om saam te bring. Raket sakke het plek vir al die goed wat jy wil saambring.  'n Rugsak kan werk, maar raket sakke vir 3, 6 of 9 rakette gee meer beskerming.

comments powered by Disqus

Terug


English Afrikaans 

Tuis | Pluimbal |Rotsklim |Verfbal |Boogskiet |Fietsry | Kontak Ons                  Admin